| Chapter 27 |
1 | En Job het verder sy spreuk aangehef en gesê: |
2 | So waar as God leef wat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het -- |
3 | want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus -- |
4 | my lippe spreek geen onreg nie, en my tong verkondig geen bedrog nie! |
5 | Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie. |
6 | Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie. |
7 | My vyand moet dus verskyn as goddelose en my teëstander as kwaaddoener. |
8 | Want wat is die verwagting van die goddelose as Hy afsny -- as God sy siel wegneem? |
9 | Sal God sy geroep hoor as benoudheid oor hom kom? |
10 | Of sal hy hom kan verlustig in die Almagtige, God altyd kan aanroep? |
11 | Ek sal julle onderrig aangaande die hand van God; wat by die Almagtige is, sal ek nie verberg nie. |
12 | Kyk, julle het dit almal self aanskou, en waarom koester julle dan 'n ydele hoop? |
13 | D¡t is die deel van die goddelose mens by God en die erfdeel van die tiranne wat hulle van die Almagtige ontvang: |
14 | as sy kinders baie word, is dit vir die swaard; en sy spruite word nie versadig met brood nie. |
15 | Die wat van hom oorbly, word deur die pes begrawe, en sy weduwees ween nie. |
16 | As hy silwer ophoop soos stof en klere aanskaf soos modder -- |
17 | hy skaf aan, maar die regverdige trek dit aan; en die onskuldige verdeel die silwer. |
18 | Hy het sy huis gebou soos 'n mot en soos 'n skerm wat die oppasser maak. |
19 | Ryk gaan hy lê, maar hy doen dit nie weer nie; hy maak sy oë oop en -- is nie meer nie. |
20 | Verskrikkinge oorval hom soos waterstrome; in die nag voer 'n stormwind hom weg. |
21 | Die oostewind tel hom op, en daar gaan hy; en dit storm hom weg uit sy plek. |
22 | En God werp op hom af sonder verskoning, vir sy hand moet hy haastig vlug. |
23 | Hulle klap oor hom in hul hande en spot hom weg uit sy plek. |