| Chapter 89 |
1 | 'n Onderwysing van Etan, die Esrahiet. |
2 | Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag. |
3 | Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele -- daar bevestig U u trou. |
4 | Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, met 'n eed aan Dawid, my kneg, belowe: |
5 | Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela. |
6 | En die hemele loof u wondermag, o HERE, ook u trou in die vergadering van die heiliges. |
7 | Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge, |
8 | 'n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is? |
9 | o HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U! |
10 | U heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring U hulle tot bedaring. |
11 | U het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi. |
12 | Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid -- U het dit gegrond. |
13 | Die noorde en die suide -- U het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam. |
14 | U het 'n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe. |
15 | Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit. |
16 | Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig. |
17 | In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef. |
18 | Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef. |
19 | Want aan die HERE behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel. |
20 | Toe het U in 'n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan 'n held, 'n uitverkorene uit die volk verhef. |
21 | Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf, |
22 | met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk. |
23 | Die vyand sal hom nie oorval en die kwaaddoener hom nie verdruk nie; |
24 | maar Ek sal sy teëstanders voor hom weg verpletter; en die wat hom haat, sal Ek verslaan. |
25 | En my trou en my goedertierenheid sal met hom wees, en deur my Naam sal sy horing verhef word. |
26 | En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere. |
27 | Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil! |
28 | Ja, k sal hom 'n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde. |
29 | Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas. |
30 | En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel. |
31 | As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie; |
32 | as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, |
33 | dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid. |
34 | Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie. |
35 | Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie. |
36 | Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie! |
37 | Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My. |
38 | Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Sela. |
39 | Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde. |
40 | U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond. |
41 | U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings 'n puinhoop gemaak. |
42 | Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy 'n smaad geword. |
43 | U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak. |
44 | Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie. |
45 | U het aan hom sy glans onttrek en sy troon teen die grond neergewerp. |
46 | U het die dae van sy jeug verkort, hom met skaamte oordek. Sela. |
47 | Hoe lank sal U, o HERE, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos 'n vuur? |
48 | Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het! |
49 | Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela. |
50 | Here, waar is u vorige goedertierenhede wat U aan Dawid met 'n eed beloof het in u trou? |
51 | Gedenk, Here, die smaad van u knegte, hoe ek in my boesem dra die smaad van al die baie volke, |
52 | waarmee u vyande, o HERE, smaad, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde smaad. [ (Psalms 89:53) Geloofd sy die HERE vir ewig! Amen, ja amen. ] |