| Chapter 139 |
1 | Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. |
2 | U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. |
3 | U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. |
4 | Want daar is nog geen woord op my tong nie -- of U, HERE, U ken dit geheel en al. |
5 | U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. |
6 | Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. |
7 | Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? |
8 | Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! |
9 | Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, |
10 | ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. |
11 | En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, |
12 | dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig. |
13 | Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. |
14 | Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. |
15 | My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. |
16 | U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. |
17 | Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! |
18 | Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U. |
19 | o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg! |
20 | Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef -- u teëstanders! |
21 | HERE, sou ek die nie haat wat vir U haat, en 'n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? |
22 | Ek haat hulle met 'n volkome haat; vyande is hulle vir my! |
23 | Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; |
24 | en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! |