| Chapter 144 |
1 | 'n Psalm van Dawid. Geloofd sy die HERE, my rots, wat my hande leer om te veg, my vingers om oorlog te voer -- |
2 | my goedertierenheid en my bergvesting, my skans en my redder, my skild en die Een by wie ek skuil, wat my volk aan my onderwerp. |
3 | o HERE, wat is die mens dat U hom ken, die mensekind dat U op hom ag gee? |
4 | Die mens is soos die nietigheid; sy dae is soos 'n vlugtige skaduwee. |
5 | Buig u hemele, HERE, en daal neer; raak die berge aan, dat hulle rook! |
6 | Slinger bliksems en verstrooi hulle; stuur u pyle uit en verwar hulle! |
7 | Strek uit die hoogte u hande uit; ruk my uit, en red my uit groot waters, uit die hand van vreemdes, |
8 | wie se mond leuens spreek en wie se regterhand 'n regterhand van bedrog is. |
9 | o God, ek wil 'n nuwe lied sing tot u eer, op die tiensnarige harp wil ek U psalmsing. |
10 | U wat aan konings die oorwinning gee, wat u kneg Dawid ontruk aan die gevaarlike swaard. |
11 | Ruk my uit en red my uit die hand van vreemdes, wie se mond leuens spreek en wie se regterhand 'n regterhand van bedrog is; |
12 | sodat ons seuns soos plante mag wees wat opgekweek is in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare wat uitgebeitel is na die boustyl van 'n paleis; |
13 | dat ons skure vol mag wees, wat allerhande soorte voorraad oplewer; ons kleinvee by duisende mag aanteel, by tien duisende vermeerder word op ons velde; |
14 | ons beeste gelaai mag wees; geen bres in ons mure en geen uittog daaruit, en geen geskreeu op ons pleine nie. |
15 | Welgeluksalig is die volk met wie dit so gaan; welgeluksalig is die volk wie se God die HERE is! |