| Chapter 8 |
1 | Roep die Wysheid nie, en verhef die Verstandigheid nie haar stem nie? |
2 | Op die top van die hoogtes langs die weg, op die kruispunt van die paaie staan sy, |
3 | aan die kant van die poorte by die uitgang van die stad, by die ingang van die deure roep sy hardop: |
4 | Ek roep na julle, manne, en my stem is tot die mensekinders. |
5 | Leer tog skranderheid verstaan, eenvoudiges, en dwase, leer verstandigheid verstaan. |
6 | Hoor, want ek sal voortreflike dinge spreek, en my lippe gaan oop vir wat reg is. |
7 | Want my verhemelte spreek waarheid, en goddeloosheid is vir my lippe 'n gruwel. |
8 | Al die woorde van my mond is reg, daarin is niks wat slinks of vals is nie, |
9 | hulle is almal duidelik vir die verstandige en reg vir die wat kennis gevind het. |
10 | Neem my tug aan, en nie silwer nie, en kennis liewer as uitgesoekte goud. |
11 | Want wysheid is beter as korale, en al die kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. |
12 | Ek, Wysheid, is vertroud met die skranderheid, en ek vind kennis van regte oorleg. |
13 | Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek. |
14 | Raad en beleid is myne, ek is die insig, sterkte is myne. |
15 | Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is; |
16 | deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde. |
17 | k het lief die wat my liefhet, en die wat my soek, sal my vind. |
18 | Rykdom en eer is by my, duursame goed en geregtigheid. |
19 | My vrug is beter as goud en as fyn goud, en my opbrings as uitgesoekte silwer. |
20 | Ek wandel op die weg van geregtigheid, in die middel van die paaie van reg, |
21 | om die wat my liefhet, 'n besitting te laat erwe, en hulle skatkamers maak ek vol. |
22 | Die HERE het my berei as eersteling van sy weg, voor sy werke, van ouds af. |
23 | Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af. |
24 | Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore; toe fonteine, swaar van water, nog nie daar was nie; |
25 | voordat die berge ingesink het, voor die heuwels is ek gebore; |
26 | toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie. |
27 | Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy 'n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed; |
28 | toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het; |
29 | toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het -- |
30 | toe was ek 'n kunstenaar naas Hom, en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd, |
31 | en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders. |
32 | Luister dan nou na my, seuns; want gelukkig is hulle wat my weë bewaar. |
33 | Luister na tug en word wys, en verwerp dit nie. |
34 | Gelukkig is die mens wat na my luister, om dag vir dag te waak aan my deure, by die syposte van my poorte die wag te hou. |
35 | Want hy wat my vind, het die lewe gevind en verkry 'n welbehae van die HERE. |
36 | Maar hy wat my mis, benadeel sy eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief. |